Hierdie blommetjies in ons tuin kom van 'n graafvol plantjies wat ons meer as sewe jaar gelede by my ma gekry het toe sy nog in St Michaels Village gewoon het. Elke oggend wanneer ek by die werk kom, sien ek dit en verlang ek opnuut na haar. Ek sou wat wou gee om haar nog 'n keer oor haar lewe uit te vra, oor die familiegeskiedenis, oor die aanpassing na my pa se dood en oor haar belewenis van die aftreeoord. Ek sou haar klein lyfie net graag teen my wou voel as ons groet, ek sou haar so graag wou bel om dinge met haar te deel. Daar is soveel dinge wat mens nie van jou ouers weet nie en as jy jonk is te selfgesentreerd is om te vra.
Hoeveel kinders, oud en jonk, sien hul ouers as 'n individu, 'n persoon in eie reg, en nie net as 'n ouer nie? Weinig, reken ek. Jou ma en pa MOET net daar wees vir jou, maak nie saak wat in hul persoonlike lewe gebeur nie. Ons DINK ons verstaan en ken hulle, maar dis net 'n waan.
Sommige kinders dink niks daarvan om net op langafstand in hul ouers se lewens teenwoordig te wees nie. Hulle hou heerlik vakansie en jakker lekker rond. Hul ouers is maar laag op die prioriteitslys as daar 'n tydjie geskeduleer moet word om hulle in die besige program in te pas. Hulle gaan woon oorsee en ontneem hul kinders van familie en grootouers, en grootouers verlang hul dood na kleinkinders. Hulle reise lei hul soms na plekke net 'n honderd of twee honderd kilometer van hul ouers se woonplek, maar hulle ry nie die ekstra afstand of las nie 'n dag of twee by hul vakansie om hul ouers te besoek nie. Soms woon hul op dieselfde dorp, maar hou verby die aftreeoord of ouetehuis. Gaan vra maar by 'n ouetehuis...
Ek is so dankbaar ek kon albei my ouers gereeld besoek, ook in hul laaste dae. As hul siek was, het ek probeer sorg dat ek daar is vir hulle. Deesdae sal sommige kinders maak asof siekte niks is as dit die ouer se siekte is, maar o wee! Laat hulle of een van hul kinders 'n siektetjie opdoen, dan is dit 'n ellende!
Ek kan met dankbaarheid sĂȘ dat my kinders my redelik goed ken, weet van baie van my seerkry en swaarkry en vreugdes. Hulle weet ek het voete van klei en is ver van perfek. Tog is hulle lief vir my nes ek is en staan hulle my by wanneer dit nodig is. Ek vertrou dat ek meer as bloot 'n ma vir hulle is en dat hulle my ook as persoon en individu sien. Daarvoor is ek oneindig dankbaar.
Kinders van alle ouderdomme moet leer om hul ouers te sien as veel, veel, veel meer as net die versorgers en die wat altyd gee en gee. Ouers het ook 'n behoefte aan erkenning, liefde en vertroeteling. Hulle is na alles net gewone mense.
