Dinsdag 31 Desember 2013

Facebook

Ek het die artikel in Beeld oor Facebookvriende met groot belangstelling gelees. Jy kan dit ook lees deur hier te kliek  http://www.beeld.com/bylae/2013-12-29-facebook-en-vriende-om-wie-jy-draaie-moet-loop

My eie Facebookprofiel is 'n mengsel van baie van die dinge wat Amanda as 'n probleem beskou. "So what!"  Dis my profiel. Moenie my vriend wees of my inskrywings lees as dit jou nie geval nie.
Ek kan gelukkig die mense wat my virtuele vriende word, sagkens verwyder deur hulle te blok as hulle my te veel irriteer, en hulle weet nie eens daarvan nie.  Of ek kan my verstellings so maak dat hulle inskrywings nie in my nuus verskyn nie.  Hulle kan gelukkig dieselfde doen en daar is geen kwade gevoelens nie.

Dis vir my opvallend hoeveel mense 'n profiel het, maar dit nooit gebruik nie.  Dis ook opvallend hoe party mense amper paranoïes is oor Facebook. Elke mens het mos die keuse wat hy/sy daar wil pos.

Ek wens Facebook wil meer keuses gee om aan te dui of jy van iets hou/nie hou nie, net gelees het, saamstem/nie saamstem nie.

Ek sal graag julle opinies oor die artikel wil hoor. Enige kommentaar is welkom.

 +Zirkëa Buys +John Smith +Ebeth van den Berg +Annemarie Smuts +Elsa Vermaak +Molly Venter +Ursula Loots +Peter Koekemoer +Neil du Plessis +Fourie Rossouw


Sondag 29 Desember 2013

Ons omgewing

Vanmiddag kyk ek by die hek uit en sien hoe iemand se beeste in die veld oorkant ons huis loop en wei. Dis prentjie mooi, al is daar nie veronderstel om beeste te wees wat hier loop nie. Dis immers dorpsgebied.






My suster +Zirkëa Buys  het weer die volgende foto op Facebook gelaai van haar uitsig vanaf Blouberg... ook prentjie mooi.

Ons land het soveel mooi plekke, soms op ons drumpel, maar ons waardeer dit nie altyd nie.

Toe ek en Gus vanmiddag gaan stap, is ek opnuut vererg oor die mense  wat sommer hul tuin- en huisrommel/vullis oral weggooi. Die inwoners gooi sommer hul rommel oorkant die straat, amper op hul eie drempel. Die hele veldkant van ons straat kan lyk soos die foto heelbo, maar blykbaar maak dit nie saak om op die gemors uit te kyk elke keer as hulle uit hul huise gaan nie.

Toe ons in Zeerust kom woon het in 1992, het dit defnitief nie so gelyk nie. Sypaadjies was skoon en netjies en daar was baie mooi tuine.  Ons en die destydse buurman het selfs planne gehad om die sypaadjie oorkant ons huise (wat eintlik net grond is) te beplant met blomme, maar die min water en bloedige son het ons planne gefnuik. Ons het ook besef die wild sou dit afvreet. Ons kry nog soms vlakvarke op ons sypaadjie wat die grasperk vreet en die bobbejane verlustig hulle in die karobbome se sade.  Voordat ons huis omhein is, het die hase gereeld ons jong saailinge in die tuin opgevreet.

Ons munisipaliteit slaan geen ag op klagtes nie, en blykbaar wil mense nie opgehef word nie. As mens lank genoeg hier woon, begin jy aan tonnelvisie ly, want dis al hoe jy kan oorleef. Jy kyk doodgewoon verby die slordige sypaadjies en onversorgde tuine.  Zeerust is 'n reënboogdorp met alle soorte inwoners en tipes behuising gemeng.  Ek dink prez Jaap sal daarvan hou.

In Blouberg sorg die munisipaliteit sekerlik dat die strandgebied skoon gehou word, die sypaadjies is netjies versorg en mense kan daar gaan stap en die uitsig geniet. Ek wonder hoe dit sou lyk as die inwoners dit self moes doen?

Saterdag 14 Desember 2013

Welwillendheid

Die anderdag staan ek in 'n winkelsentrum en kyk hoe die parkeermeter my R50 bly uitspoeg.  Ek krap in my handsak en beursie vir kleingeld, maar o wee! Daar is geen kleingeld nie. 

'n Pragtige jong, swart vrou staan my en bekyk en druk twee R2-munte en 'n R- rand munt in my hand en sê ek moet daarmee betaal.  Ek probeer verduidelik ek kan dit nie terug gee tensy sy gewillig is om te wag dat ek kleingeld by die naaste winkel probeer kry nie.  Sy glimlag vriendelik en sê: "Don't worry!" en betaal haar eie kaartjie by die masjien langsaan en met 'n glimlag verdwyn sy tussen die motors.

Ek was oorweldig deur hierdie gebeure. Dis mos wat Nelson Mandela sou wou hê, dink ek so by myself. Absolute welwillendheid.

Ek dink ons moet 'n paradigmaskuif maak en met nuwe oë na die mense om ons kyk. Dalk moet ons eerder glimlag as iemand in ons oë kyk as om weg te kyk, 'n geselsie aanknoop en meer leer van ander se situasie, doodgewoon "nice" wees. Dalk moet ons kyk waar kan ons help. Dalk moet ons die beginsel van "pay it forward" begin toepas....





Lees meer  by:

 http://en.wikipedia.org/wiki/Pay_it_forward

http://pinterest.com/pifevents/inspirational-quotes

Donderdag 05 Desember 2013

By die hospitaal

Ek verwonder my altyd aan die reaksies van verskillende mense wat wag  voor die deur van 'n intensiewe sorgsaal vir nuus oor hul ernstig siek geliefdes.

Party praat onophoudelik; mens kan nie 'n garedraad tussen hulle woorde inkry nie. Hulle praat so baie mens wil hulle sommer gaan stil maak. Hulle betrek enige gewillige persoon by die gesprek en vertel alles wat in hulle koppe kom.

Ander word stil en verdwyn in die agtergrond. Hulle sit net daar met glasige oë en staar in die verte, of na 'n boek of koeran,t sonder om enige iets te sien.

Sommiges hou hulle besig met hulle selfone asof hulle lewens daarvan afhang. Hulle tik verwoed op die klein sleutelborde of raakskerms, sonder ophou. Dis soos 'n reddingsboei waaraan hulle vasklou.

Party groepe kamp letterlik uit voor die deur. Daar word kos aangedra en dis 'n gekuier van 'n ander wêreld. Daar is naderhand nie meer plek vir enige ander besoeker nie en ons moet maar verder in die gang af gaan sitplek soek. daar is kinderoppassers, kleintjies wat heen en weer hardloop, groepies wat staan en gesels en midde in dit alles die jong vrou wat sit en huil oor haar man wat 'n hartaanval gehad het en breinskade opgedoen het.

Ek het dieselfde drie bladsye van 'n nuwe boek male sonder tal gelees sonder om 'n woord te onthou...

Mettertyd word ons 'n klein gemeenskappie, aan mekaar gebind deur vrees, leed, hoop en wanhoop.  Dit maak nie saak watter taal ons praat, hoe ons lyk of wat ons geloofsoortuiging is nie. Ons vra uit oor mekaar se geliefdes in die ICU, oor die diagnose en prognose, oor  mekaar se situasies. Ons gee drukkies, ons bemoedig, ons huil saam.  As ons mekaar in die gange kry groet ons, ons spandeer 'n oomblik om uit te vind hoe alles verloop. Ons is bly oor goeie nuus en hartseer oor slegte nuus. Mettertyd begin ons mekaar se vriende en familielede ook eien, groet en bemoedig.

Ek voel amper skuldig toe my man van intensief na die kardiologiese saal oorgeplaas word, want van die ander wat saam gewag het, se mense is nog baie ernstig siek. Tog vra die bekende vreemdelinge nog telkens hoe dit met hom gaan as ek verby die groepie wagtendes stap en ek verneem na hulle mense. Almal bly bid vir mekaar, al is dit nie altyd tot dieselfde God nie.

Uiteindelik word my man ontslaan en ons stoot die rystoel verby die kleinerwordende groepie na buite. Ons groet in die verbygaan en wens mekaar alles van die beste toe.  Dae later bly ek nog wonder hoe dit met almal gaan. Hoekom het ons nie maar mekaar se selfoonnommers geneem nie?

Intussen het ek darem uitgevind wat die jong vrou se naam is: Hafsah.  Daardie diepbruin oë  wat soms so hartseer is en ander kere vol hoop, bly by my.