Ek verwonder my altyd aan die reaksies van verskillende mense wat wag voor die deur van 'n intensiewe sorgsaal vir nuus oor hul ernstig siek geliefdes.
Party praat onophoudelik; mens kan nie 'n garedraad tussen hulle woorde inkry nie. Hulle praat so baie mens wil hulle sommer gaan stil maak. Hulle betrek enige gewillige persoon by die gesprek en vertel alles wat in hulle koppe kom.
Ander word stil en verdwyn in die agtergrond. Hulle sit net daar met glasige oë en staar in die verte, of na 'n boek of koeran,t sonder om enige iets te sien.
Sommiges hou hulle besig met hulle selfone asof hulle lewens daarvan afhang. Hulle tik verwoed op die klein sleutelborde of raakskerms, sonder ophou. Dis soos 'n reddingsboei waaraan hulle vasklou.
Party groepe kamp letterlik uit voor die deur. Daar word kos aangedra en dis 'n gekuier van 'n ander wêreld. Daar is naderhand nie meer plek vir enige ander besoeker nie en ons moet maar verder in die gang af gaan sitplek soek. daar is kinderoppassers, kleintjies wat heen en weer hardloop, groepies wat staan en gesels en midde in dit alles die jong vrou wat sit en huil oor haar man wat 'n hartaanval gehad het en breinskade opgedoen het.
Ek het dieselfde drie bladsye van 'n nuwe boek male sonder tal gelees sonder om 'n woord te onthou...
Mettertyd word ons 'n klein gemeenskappie, aan mekaar gebind deur vrees, leed, hoop en wanhoop. Dit maak nie saak watter taal ons praat, hoe ons lyk of wat ons geloofsoortuiging is nie. Ons vra uit oor mekaar se geliefdes in die ICU, oor die diagnose en prognose, oor mekaar se situasies. Ons gee drukkies, ons bemoedig, ons huil saam. As ons mekaar in die gange kry groet ons, ons spandeer 'n oomblik om uit te vind hoe alles verloop. Ons is bly oor goeie nuus en hartseer oor slegte nuus. Mettertyd begin ons mekaar se vriende en familielede ook eien, groet en bemoedig.
Ek voel amper skuldig toe my man van intensief na die kardiologiese saal oorgeplaas word, want van die ander wat saam gewag het, se mense is nog baie ernstig siek. Tog vra die bekende vreemdelinge nog telkens hoe dit met hom gaan as ek verby die groepie wagtendes stap en ek verneem na hulle mense. Almal bly bid vir mekaar, al is dit nie altyd tot dieselfde God nie.
Uiteindelik word my man ontslaan en ons stoot die rystoel verby die kleinerwordende groepie na buite. Ons groet in die verbygaan en wens mekaar alles van die beste toe. Dae later bly ek nog wonder hoe dit met almal gaan. Hoekom het ons nie maar mekaar se selfoonnommers geneem nie?
Intussen het ek darem uitgevind wat die jong vrou se naam is: Hafsah. Daardie diepbruin oë wat soms so hartseer is en ander kere vol hoop, bly by my.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking