Vanmiddag kyk ek by die hek uit en sien hoe iemand se beeste in die veld oorkant ons huis loop en wei. Dis prentjie mooi, al is daar nie veronderstel om beeste te wees wat hier loop nie. Dis immers dorpsgebied.
My suster +Zirkëa Buys het weer die volgende foto op Facebook gelaai van haar uitsig vanaf Blouberg... ook prentjie mooi.
Ons land het soveel mooi plekke, soms op ons drumpel, maar ons waardeer dit nie altyd nie.
Toe ek en Gus vanmiddag gaan stap, is ek opnuut vererg oor die mense wat sommer hul tuin- en huisrommel/vullis oral weggooi. Die inwoners gooi sommer hul rommel oorkant die straat, amper op hul eie drempel. Die hele veldkant van ons straat kan lyk soos die foto heelbo, maar blykbaar maak dit nie saak om op die gemors uit te kyk elke keer as hulle uit hul huise gaan nie.
Toe ons in Zeerust kom woon het in 1992, het dit defnitief nie so gelyk nie. Sypaadjies was skoon en netjies en daar was baie mooi tuine. Ons en die destydse buurman het selfs planne gehad om die sypaadjie oorkant ons huise (wat eintlik net grond is) te beplant met blomme, maar die min water en bloedige son het ons planne gefnuik. Ons het ook besef die wild sou dit afvreet. Ons kry nog soms vlakvarke op ons sypaadjie wat die grasperk vreet en die bobbejane verlustig hulle in die karobbome se sade. Voordat ons huis omhein is, het die hase gereeld ons jong saailinge in die tuin opgevreet.
Ons munisipaliteit slaan geen ag op klagtes nie, en blykbaar wil mense nie opgehef word nie. As mens lank genoeg hier woon, begin jy aan tonnelvisie ly, want dis al hoe jy kan oorleef. Jy kyk doodgewoon verby die slordige sypaadjies en onversorgde tuine. Zeerust is 'n reënboogdorp met alle soorte inwoners en tipes behuising gemeng. Ek dink prez Jaap sal daarvan hou.
In Blouberg sorg die munisipaliteit sekerlik dat die strandgebied skoon gehou word, die sypaadjies is netjies versorg en mense kan daar gaan stap en die uitsig geniet. Ek wonder hoe dit sou lyk as die inwoners dit self moes doen?


Alhoewel die munisipaliteit van Kaapstad die omgewing baie skoon en netjies hou, kom die inwoners van Bloubergstrand een keer per maand bymekaar om die strand skoon te maak. Dis 'n baie lang strand en die skoonmakers kan nie elke dag al die klein objekte optel nie, dus doen vrywilligers dit een keer per maand. Die resultaat is dat ons almal in 'n omgewing woon waarop ons trots kan wees.
AntwoordVee uitWie is die vrywilligers? Neem jy en Ben ook deel aan die skoonmaakaksie?
AntwoordVee uit